Byna 1 000 gevangenes ontplooi om LA-veldbrande te bestry
Byna ‘n duisend mans- en vroue-gevangenes is ontplooi om die hewige veldbrande in Los Angeles te help beveg. Die gevangenes vorm deel van ‘n voortgesette vrywilligersprogram deur Kalifornië se Departement van Korrektiewe Dienste en Rehabilitasie. Hulle kom uit 35 kampe in minimum-sekerheidsfasiliteite, waar gevangenes hul straf uitdien maar ook opleiding ontvang. Twee van die kampe is net vir vroue. Die program het in 1946 ontstaan, maar daar is uiteenlopende menings daaroor. Kritici beskou dit as uitbuiting, maar ondersteuners meen dis ‘n goeie vorm van rehabilitasie.