Bestuurders oningelig, passasiers ook
Die Paaie-owerheid se uitvoerende beampte vir vervoer, Sidney Boois, is bekommerd oor die lakse gebruik van veiligheidsgordels in openbare vervoer. Boois het met die nasionale uitsaaier gepraat en sê hy het by die B1-suid-padblokkade, wat op die Windhoek-Rehoboth-roete is, meer as 40 passasiers gestraf omdat hulle nie veiligheidsgordels gebruik het nie. By Mariental is vyf passasiers aangekla omdat hulle nie veiligheidsgordels gedra het nie. Boois voeg by dat bestuurders en passasiers van openbare vervoer minimale tot geen begrip gehad het van die nooduitgange wat vir hul gebruik beskikbaar is nie. Hulle kon ook nie die gebruik van die brandblussers en waarskuwingsdriehoeke wat afwesig was, verduidelik nie. Mees kommerwekkend is dat voertuigeienaars min tot geen kennis van banddruk en bandloopvlakdiepte het nie.