Ghana bied visumvrye toegang vir Afrikane
Ghana se uittredende president, Nana Akufo-Addo, het visumvrye toegang vir alle Afrika-paspoorthouers aangekondig, wat ‘n stap in die rigting van ekonomiese integrasie op die vasteland toon. Die aankondiging het tydens sy finale staatsrede gekom, terwyl hy voorberei om môre na twee ampstermyne uit te tree. Hy sê dit is ‘n logiese volgende stap na die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied ingestel is. Dit is ook noodsaaklik vir die verwesenliking van die AU se Agenda 2063, wat ‘n geïntegreerde en verbinde Afrika teen 2063 in die vooruitsig stel. Ghana sluit aan by Rwanda, Seychelle, Gambië en Benin om visumvrye toegang aan Afrika-reisigers te bied.