Rusland loods massiewe aanval op Oekraïne
Rusland het ‘n massiewe Kersoggend-aanval op Oekraïne se energiestelsel en stede in sy oostelike streek met kruis- en ballistiese missiele geloods. Oekraïnse president Volodymyr Zelensky sê Russiese president Vladimir Putin het met opset Kersfees gekies om aan te val, en beskryf dit as onmenslik. Meer as 70 missiele, insluitend ballistiese missiele, en meer as ‘n honderd hommeltuie is gebruik. Volgens Zelensky is meer as 50 missiele en ‘n aansienlike deel van die hommeltuie afgeskiet. Daar is egter kragonderbrekings en beperkings op energievoorsiening regoor die land, insluitend in dele van Kiev. Volgens berigte duur die aanval voort.