Presidensie verwelkom Energieraad se skeiding met Bain
Die Presidensie het die Energieraad van Suid-Afrika lof toegeswaai oor sy besluit om bande te sny met Bain and Company. Dit volg op besware wat president Cyril Ramaphosa se kantoor geopper het. Die presidensiële woordvoerder, Vincent Magwenya beskryf dit as ‘n welkome verwikkeling. Die stap kom nadat Bain, wat in 2022 verbied is om regeringswerk te doen oor ‘n korrupsieskandaal en bande met staatskaping, onbetaalde projekbestuursdienste aangebied het. Die Presidensie het vroeër die raad aangemoedig om sy verhouding met Bain te heroorweeg en McKinsey and Company se bande met georganiseerde handel gekritiseer.