Macron besoek verwoeste Mayotte
Franse president Emmanuel Macron is op besoek aan die Franse oorsese gebied Mayotte, vyf dae nadat die eiland deur sikloon Chido verwoes is, waar hy deur ontstelde en woedende inwoners gekonfronteer is. Hoog op hul lys van griewe is die gebrek aan water en kos, en vrees vir plundering. Macron het sy reis met ‘n dag verleng sodat hy afgeleë gebiede van die Indiese Oseaan-argipel kan inspekteer. Hy het Maandag tot ‘n nasionale dag van rou verklaar. Sy besoek kom nadat Parys laat Woensdag uitsonderlike natuurramp-maatreëls vir Mayotte verklaar het. Macron se vliegtuig het 20 dokters, verpleegsters en burgerlike veiligheidspersoneel vervoer, asook vier ton kos en sanitêre voorrade. Noodspanne soek steeds na oorlewendes en ‘n amptelike dodetal is nog nie beskikbaar nie.