16 dae help nie, Namibiërs is bewus van geslagsgeweld, oplossings ontbreek
Die 16 dae van aktivisme teen geslagsgebaseerde geweld het op 10 Desember afgesluit. Gedurende hierdie tydperk het Kosmos 94.1 Nuus twee moorde op vroue aangeteken, 6 aangemelde verkragtings, of gemiddeld een per dag, en een poging tot verkragting van ‘n seun. Dit is slegs die sake wat amptelik aangemeld is. Op geslagsgebaseerde geweld-platforms is talle gevalle van verkragting, poging tot verkragting, seksuele geweld en aanranding bespreek, waarvan baie nie aangemeld is nie. Kosmos 94.1 Nuus het met die aktivis Ethne Mudge gesels oor of die jaarlikse 16 dae van aktivisme-veldtog geslagsgebaseerde geweld aanspreek. Sy sê jy kan net soveel bewustheid skep, maar dan moet iets gedoen word.