Trump stuur persoonlike inhuldigingsuitnodigings uit

Die verkose Amerikaanse president, Donald Trump, het persoonlik inhuldigingsuitnodigings gerig aan buitelandse leiers wat onlangs van die land verskil het – insluitend die Chinese president, Xi Jinping. Sy woordvoerder, Karoline Leavitt, het aan Fox News gesê dis ‘n voorbeeld van hoe hy ope dialoog skep met leiers van lande wat nie noodwendig bondgenote is nie, maar ook teenstanders en mededingers. Die inhuldiging vind op 20 Januarie plaas. Drie van sy noue bondgenote, president Nayib Bukele van El Salvador, die Italiaanse eerste minister, Giorgia Meloni, en die Argentynse president, Javier Milei, is ook genooi.