Julle sal nou begin pleit, hoor Fishrot-beskuldigdes
Regter Moses Chinhengo het sy voet neergesit in die voortslepende Fishrot-bedrogsaak in die hoërhof in Windhoek en gelas dat die afneem van die beskuldigdes se pleite Woensdag sal begin en voltooi moet wees voordat die hof vir Kersfees op reses gaan. Die kriminele verhoor sal begin op ‘n datum waarop die partye en die Registrateur ooreengekom het, met inagneming van die beskikbaarheid van regsverteenwoordigers. Die verhoor moet egter nie later nie as 4 Februarie 2025 begin, het Chinhengo gelas. Hy het gesê dit is onregverdig dat die beskuldigdes so lank in aanhouding moet bly voor die verhoor begin, en prosesse moet afgehandel word sodat die verhoor kan voortgaan.