Siriese rebelle bereik hoofstad Damaskus
Siriese rebelle het die voorstede van die hoofstad Damaskus bereik met hulle blits-offensief wat dreig om Bashar al Assad se heerskappy van 24 jaar te beëindig. Sky News berig betogers het die standbeeld van die president se ontslape pa in ‘n voorstad omgestoot. Die Siriese Observatorium vir Menseregte het gesê opstandiges was aktief in drie voorstede van Damaskus. Volgens ‘n verklaring van sy kantoor is Assad nog in die hoofstad maar daar is gerugte dat hy gevlug het. Rebellemagte het ‘n beroep gedoen op diegene wat lojaal is aan die Assad-regime om by hulle aan te sluit.