SA se Padongelukkefonds het 321 000 agterstallige eise

Die buurland se vervoerminister, Barbara Creecy, sê die agterstand by die Padongelukkefonds is uit ʼn finansiële en humanitêre perspektief onvolhoubaar en vereis beleids- en administratiewe hervorming. Die minister het op ʼn geskrewe vraag in die Parlement gesê die fonds se agterstand in eise was op die 19de van verlede maand 321 251. Hiervan was net meer as 174 000 vier jaar en ouer. Die fonds het verlede jaar meer as 45 miljard Suid-Afrikaanse rand se eise uitbetaal. Creecy sê daar is ʼn voortgesette data-ontleding om monitering te bevorder en te help om eise te identifiseer wat betaal moet word.