Bibi skop vas oor Palestynse staat
Israel se premier Benjamin Netanyahu sê hy verwerp ‘n plan vir internasionale erkenning van ‘n Palestynse staat en sê so ‘n inisiatief sal ‘n enorme beloning aan terrorisme bied. Netanyahu se kommentaar volg op ‘n berig in die Washington Post. Die koerant sê dat die VSA, Israel se vernaamste bondgenoot, saam met verskeie Arabiese lande werk aan ‘n omvattende plan vir langtermyn vrede tussen Israel en die Palestyne. Die plan het ‘n vaste tydlyn vir die stigting van ‘n Palestynse staat. Netanyahu sê Israel sal voortgaan om die eensydige erkenning van ‘n Palestynse staat teen te staan.