ZAR: Cyril skadelikste president nog vir geldeenheidJanuary 5, 2024

Sedert die ANC-regering in 1994 die leisels in Suid-Afrika oorgeneem het, het die Suid-Afrikaanse rand van 3,62 per Amerikaanse dollar tot meer as 19,80 in die middel van 2023, gedaal. Oor die afgelope 30 jaar het die rand se waarde met 82 persent gedaal, relatief tot die Amerikaanse dollar. Dit is gelykstaande aan die verlies van ‘n jaarlikse saamgestelde 6 persent in randwaarde. Die rand se daling is veroorsaak deur korrupsie, arbeidsonrus, beurtkrag, mislukte staatsondernemings, ‘n onderpresterende ekonomie, die gryslys en portefeulje-uitvloei. Toe Nelson Mandela in 1994 president geword het, kon een Amerikaanse dollar 3 rand 62 sent koop. Ná sy ampstermyn kon een dollar 6 rand 9 sent koop. Dit kom neer op ‘n daling van 40,56 persent. Tydens Thabo Mbeki se amp het die rand met 26 persent gedaal. Jacob Zuma het dit verder gevat met ‘n 30 persent daling maar, Cyril Ramaphosa het tot dusver net vyf jaar gedien, en die rand het reeds 40,9 persent van sy waarde verloor relatief tot die Amerikaanse dollar. Dit kom neer op ‘n geannualiseerde saamgestelde daling van 9,98 persent tydens sy amp, sover.