BoN-baas sien niks fout met banke se winste nie

Die winste van kommersiële banke is onder die loep voor ‘n staande komitee van die nasionale vergadering. Volgens die goewerneur van die sentrale bank, Johannes !Gawaxab, is daar niks fout met winste by die banke nie – hy sê nie net is die banke eintlik besighede nie, vandag se wins is môre kapitaal. Hy voeg by dat dit belangrik is dat die finansiële sektor nie as teen die gemeenskap geag moet word nie omdat, wanneer die gemeenskap presteer, presteer die sektor ook. Maar, daar is klagtes oor veral fooie by banke. Die Bank van Namibië het die jaar 68 klagtes ontvang waarvan die meerderheid, 28 persent, klagtes was oor fooie en heffings. Banke het in sewe sake 4,7 miljoen Namibiese dollar terugbetaal. Maar ekonomiese gelykheid moet bereik word veral in verband met kredietverlening.