Nampol lei offisiere op in doeltreffende bestuur

Nampol inspekteur-generaal Joseph Shikongo beskryf deurlopende leierskap-ontwikkelingsopleiding vir senior onderoffisiere as ‘n reis na organisatoriese uitnemendheid, bemagtiging en transformasie. Shikongo het amptelik die tweede weeklange Strategiese Leierskap- en Bestuursopleiding werkswinkel vir senior offisiere in Hardap geopen, wat deur 10 senior bevelsoffisiere bygewoon word. Die doel van die opleiding, wat aangebied word deur die Namibië Instituut vir Publieke Administrasie en Bestuur, is om die polisie se senior bevel te bemagtig met kennis en vaardighede vir sukses in die komplekse veld van leierskap.