Nog ‘n bejaarde egpaar geteiken, beroofNovember 6, 2023
Nog ‘n bejaarde egpaar van onderskeidelik 69 en 65 jaar oud is in hul huis aangeval en beroof, hierdie keer in Omaruru. Die polisie sê vier mans gewapen met messe het ‘n venster in hul huis gebreek na middernag Saterdag en die slapende egpaar met die vuiste toegetakel en geld gevra. Die man is ook in die been gesteek. Die mans het onder meer 1 500 euro, 10 000 Namibiese dollar, twee rewolwers en juwele ter waarde van 307 800 dollar uit die kluis gesteel en met die egpaar se Volkswagen Polo weggejaag. Die voertuig is later langs die pad na Karibib gekry en daar word vermoed dat die verdagtes in ‘n wegkom-voertuig, ‘n ander Polo, oorgeklim het. Die egpaar het ook kneusings opgedoen maar is in ‘n stabiele toestand. Verlede maand is ‘n bejaarde egpaar ook in die middernagtelike ure in hul huis in Kramersdorf in Swakopmund beroof deur vier mans.