Wees versigtig, dis tarantula paarseisoen!

Wanneer tarantulas aan die beweeg is, beter jy versigtig wees. Dit is die boodskap wat parkbeamptes probeer versprei nadat so ‘n spinnekop ‘n motorongeluk in Amerika se Death Valley nasionale park veroorsaak het. Twee toeriste van Switserland het hard gerem nadat hulle ‘n tarantula in ‘n afgeleë gebied oor Roete 190 sien skarrel het. ‘n 24-jarige Kanadese man op ‘n motorfiets het toe agter in die egpaar se gehuurde kampeerwa vasgery en moes na ‘n hospitaal vervoer word. Die tarantula was ongedeerd. Parkbeamptes sê dit is tans paarseisoen en die reuse-spinnekop mannetjies loop dan rond op soek na ‘n maat.