Britse LP afgedank omdat hy vir skiestilstand in Midde-Ooste vra
‘n Parlementslid van die Britse Konserwatiewe Party is as ministeriële assistent afgedank nadat hy gevra het vir ‘n wapenstilstand in die oorlog tussen Israel en Hamas. Paul Bristow, ‘n assistent van die minister van wetenskap het aan die eerste minister, Rishi Sunak, geskryf en hom aangemoedig om sy standpunt oor die konflik te verander en sy steun aan ‘n permanente einde aan die vyandelikhede te gee. Die Britse regering sê hy ondersteun wat hy noem humanitêre pouses, maar nie ‘n wapenstilstand nie. Intussen is nog 300 Amerikaanse soldate na die Midde-Ooste ontplooi na Jemen se Houthi-rebelle Israel aangeval het. Die aanval is onderskep deur die Israeliese weermag. Die koördineerder van die Withuis se sekuriteitsraad John Kirby sê die VSA sal sy belange beskerm.