Aussie litium-verwerker vestig hom op Karibib
Die Australiese litium-verwerker Lepidico het 950 miljoen Namibiese dollar bevestig vir sy litium-verwerkingsaanleg by Karibib. Volgens The Brief sal albei fases van die projek rondom 1,2 miljard Namibiese dollar beloop. Die maatskappy se besturende direkteur Joe Walsh sê die befondsing sal benut word vir ‘n litiummyn en konsentrator, in die eerste deel van die projek. ‘n Verdere 3,8 miljard Namibiese dollar word benodig vir die stroomaf-komponent wat die konstruksie van ‘n chemiese omskakelingsaanleg in Abu Dhabi behels. Volgens The Brief is die beplanning en nodige tegniese aspekte van die projek reeds afgehandel en die maatskappy is gereed om konstruksie te begin. Die nuus kom op die hakke van die aankondiging deur Namibiese regering dat geen onverwerkte litium of ander aardmetale meer die land mag verlaat nie.