VSA ontken enige betrokkenheid by Dagestan-lughawe

Amerika beskryf die Russiese president Vladimir Putin se bewering dat ʼn betoging teen Israel by die Dagestan-lughawe deur Oekraïne en die Weste georganiseer is, as belaglik. ʼn Woedende gepeupel het Sondag die lughawe in Makhachkala bestorm op soek na Joodse passasiers wat van Israel kom. Meer as 60 mense is in hegtenis geneem. Die teen-Joodse betogings volg na Putin se pro-Palestynse standpunt in Israel se oorlog in Gaza. Die woordvoerder van Amerika se nasionale veiligheidsraad, John Kirby, sê die Weste het niks te doen met hierdie voorval van haat, onverdraagsaamheid en intimidasie nie.