TikTok ‘dokter’ stap vry uit hof

Die Landdroshof in Johannesburg het die saak teen die vals dokter, Matthew Lani, laat vaar. Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig Lani is uit aanhouding vrygelaat nadat die saak nie op die hofrol geplaas is nie. Die Gautengse Gesondheidsdepartement het vroeër hierdie maand ‘n saak teen Lani geopen. Hy is Sondagaand aangekeer nadat hy betrap is toe hy die Helen Joseph-hospitaal probeer betree het. Hy is daarvan beskuldig dat hy hom as ‘n mediese dokter voorgehou het en ongewenste mediese raad op TikTok gegee het.