Minerale: Waardetoevoeging nie so ‘einfach’ nie

Namibië se ambisies om ‘n vervaardigingspilpunt vir batterymetale te word sal groot beleggings in infrastruktuur verg om verwerkingsfasiliteite te ondersteun. Namibië het verlede jaar die eerste Afrika-land geword wat ‘n ooreenkoms met die Europese Unie onderteken het om die blok te voorsien van groen-waterstof en minerale wat nodig is vir skoon energietegnologie. Namibië het vanjaar die uitvoer van onverwerkte litium- en seldsame aardminerale verbied. Maar is dit deurdag? Mynboubestuurders waarsku oor die koste van verwerking. Anthony Viljoen, uitvoerende hoof van Andrada Mining sê die land kan sy samewerking met die EU gebruik om die grootskaalse infrastruktuurprojekte te ontwikkel wat nodig is om plaaslike verwerking te ondersteun van batterymetale. Hy sê verwerking word maklik gebruik sonder om die kompleksiteite te verstaan. Daar moet ‘n groot belegging wees, en gelyktydig met die ontwikkeling van fasiliteite moet water, krag en logistiek in plek wees.