Regter beboet Trump
’n Regter van New York het die voormalige Amerikaanse president Donald Trump met 5 000 Amerikaanse dollar beboet. Dit was nadat ’n neerhalende plasing op sosiale media oor ’n belangrike hof-amptenaar in Trump se siviele bedrogsaak op sy veldtog-webwerf gebly het nadat die regter beveel het dat dit uitgevee word. Regter Arthur Engoron het vir eers nie vir Trump in minagting gehou nie, maar het hom die reg voorbehou om dit te doen – en hom moontlik selfs in die tronk te sit – as hy voortgaan om ‘n mondelinge bevel te oortree wat partye in die saak verbied om persoonlike aanvalle op hofpersoneel te loods. Die regter het ook hierdie week Trump en sy prokureurs gewaarsku om hulle in die hof te gedra.