Finansminister dagvaar Jack Huang vir M$74m
Die finansminister dagvaar Jack’s Trading, die maatskappy van die omstrede Chinese sakeman en vriend van President Hage Geingob, wat ook ‘n Namibiese identiteitsdokument het, Jack Huang, vir net meer as 74 miljoen Namibiese dollar in heffings in verband met die doeane en aksyns-wetgewing. In sy stukke sê die minister dat hy ‘n heffing op die invoer van sement geplaas het, in verskillende persentasies vir verskillende periodes. Daar was ‘n hofgeding wat uiteindelik ook in die hooggeregshof gedraai het, maar daar is bevind dat Jack’s Trading aanspreeklik is vir die heffings vanaf 2012 tot 2017. Hy het Portland-sement ingevoer. Die saak, wat verdedig word, kom vandag voor regter Eileen Rakow voor vir saakbestuur. Huang is onlangs ontslaan in die saak van 3,5 miljard Namibiese dollar in belastingontduiking.