August 26 gee sy hoof die trekpas
Die herrie is los in August 26, die kommersiële vertakking van die Namibiese weermag. Volgens wat berig word is sy besturende direkteur Salatiel Ntinda die trekpas gegee oor die 2,5 miljoen Namibiese dollar wat aan Penda Enterprises geleen is. Die het blykbaar ‘n kontrak gehad om die Ugandese regering van wapens te voorsien. August 26 se finansiële hoof, Karel Nel het reeds bedank. Hulle is vroeër die maand skuldig bevind na ‘n dissiplinêre proses. Die adjunk-uitvoerende direkteur in die ministerie van verdediging, Petrus Nathinge is ook as voorsitter van die raad reeds in Junie verwyder nadat daar bevind is hy was deel van die transaksie.