Drie GBV-gevalle daagliks by Omuthiya-hospitaal

Die Oshikoto-streek het 305 gevalle van geslagsgeweld tussen Januarie en September vanjaar aangeteken, met 201 verdagtes wat in verband met die sake in hegtenis geneem is. Geslagsgeweld is ‘n reuse-uitdaging in Namibië ook omdat dit kultureel in sommige gevalle toelaatbaar is. Inspekteur Peter Nakadhilu van die streeksmag sê van die faktore wat tot die voorkoms van die geweld bydra, sluit in geslagsongelykheid of ongelykhede in magsverhoudinge tussen mans en vroue. Drank- en dwelmmisbruik, sowel as armoede dra ook by. Volgens Esther Hafungo, senior maatskaplike werker van die Omuthiya-distrikshospitaal, hanteer hulle tot drie gevalle daagliks. Sy voeg by baie sake is van landelike gebiede en word nie aangemeld nie.