Amushelelo, Nauyoma onskuldig bevindOctober 12, 2023

Die bekende aktiviste Michael Amushelelo en Dimbulukeni Nauyoma is onskuldig bevind op die drie aanklagte waarop hulle in die Windhoek-landdroshof in Katutura tereggestaan het. Landdros Linus Samunzala het die twee mans onskuldig verklaar in ‘n uitspraak wat gelewer is nadat die staat sy saak vandag gesluit het. Hulle is aangekla van openbare geweld, opsetlike saakbeskadiging en aanhitsing van openbare geweld nadat hulle op 21 Maart vanjaar ‘n openbare betoging oor werkloosheid in Namibië gereël het. Samunzala het in sy uitspraak gesê op grond van die staat se getuienis kan Nauyoma en Amushelelo nie deur ‘n redelike hof skuldig bevind word nie.