Beukes se skorsing gaan na media ombudsman
Die Redakteursforum van Namibië sê hy gaan die media ombudsman, John Nakuta, nader in verband met die skorsing van New Era se besturende direkteur, Jonathan Beukes. Beukes is summier geskors nadat hy die deursigtigheid van die regsbank bevraagteken het in ‘n hoofartikel. Die EFN sê hy sal Nakuta vra om die artikel te hersien, wat volgens New Era se bestuur nie voldoen het aan die kriteria van die media etiek- en gedragskode nie. Die EFN sê hy sal verkies dat Nakuta met die vorige media-ombudsman, Clement Daniels, konsulteer om hierdie aangeleentheid dus gesamentlik te beoordeel, voordat hy tot ‘n gevolgtrekking kom. Die forum voeg by dit wil voorkom asof New Era se bestuur doelgerig ‘n saak nagevolg het sonder om ‘n formele klagte te registreer by die ombudsman, soos wat gewoonlik gedoen word. Die EFN doen verder ‘n beroep op die bestuur van New Era om persvryheid te ondersteun.