Hoofstad spaar geld want minder verkeersligte word beskadig

Daar is ‘n afname in die aantal verkeersligte wat in voertuigongelukke in Windhoek beskadig word, met minder as vyf voorvalle per maand vergeleke met verlede jaar, toe drie ongelukke per week aangemeld is. Die woordvoerder van die Stad Windhoek, Lydia Amutenya, sê die meeste ongelukke vind oor naweke plaas. Die vervanging van ‘n enkele verkeerslig wissel van 15 000 Namibiese dollar tot 50 000 dollar, arbeidskoste uitgesluit. Amutenya sê verdagtes wat by sulke misdrywe betrokke is, word opgespoor met die hulp van die Stadspolisie se moniteringstelsel. Wanneer die voertuie wat by die ongelukke betrokke is op die toneel ontdek word, word die herstelkoste op die verdagte se rekening gehef.