Nanowêreld-kenners kry Nobelprys vir Chemie
Drie wetenskaplikes is aangewys as gesamentlike wenners van vanjaar se Nobelprys vir Chemie, vir hul ontdekking van klein groepies atome, bekend as kwantum-kolletjies. Dié kwantum-kolletjies word wyd gebruik om kleure in platskermtelevisiestelle, LED-lampe en toestelle te skep wat chirurge help om bloedvate in gewasse te sien. Die Nobelkomitee sê, die Frans-gebore Moungi Bawendi, die Amerikaner Louis Brus en die Rus Alexei Ekimov is pioniers in die verkenning van die nanowêreld. Die Literatuurprys word vandag aangekondig, die Vredesprys môre en die prys vir Ekonomiese Wetenskappe Maandag.