Die wêreld word te vinnig, te baie, warm

Wetenskaplikes is uit die veld geslaan deur die groot styging in die gemiddelde temperatuur vir September. Die Copernicus-klimaatsveranderingsdiens, bekend as C3S, het bevestig die wêreld se gemiddelde lugtemperatuur op die aardoppervlak was verlede maand 16,38 grade Celsius. Dit is 0,93 grade bo die September-gemiddeld oor die vorige 20 jaar en 0,5 grade warmer as die vorige warmste September in 2020. Die jongste data bevestig die wêreld gaan moontlik sy warmste jaar in menseheugenis beleef. Dit is 1,4 grade warmer as voor die nywerheids-era. Wetenskaplikes skryf dit toe aan klimaatsverandering en die El Niño-weerverskynsel.