Meer besonderhede oor R44-ramp aan die kus

Antje Nauhaus is 15 000 Namibiese dollar borg in die Swkopmund-landdroshof met streng voorwaardes toegestaan. Nauhaus word van verskeie klagtes, insluitend bedrog, vervalsing en verskeie oortredings van die burgerlike lugvaart-wetgewing in verband met die noodlottige R44-helikopter ongeluk op 17 Julie aan die kus aangekla. Die vlieënier Jacques Jacobs en vlugingenieur Dirk von Weidts is in die ongeluk dood. Volgens die polisie, is die dokumentasie vir die toetsvlug daardie middag vervals. Die helikopter was ook nie lugwaardig in Suid-Afrika of Namibië nie en was ook nie geregistreer nie. Die helikopter het ook nie sy oorspronklike enjin gehad nie maar dié van V5-HJL van die Lombaards se Golden Game-maatskappy wat in Augustus 2021 by Harvey Boulter se plaas neergestort het. Die R44 het ook geen vlugdata-opnemers gehad nie. Nauhaus se saak is tot Desember uitgestel vir verdere ondersoek.