Vissermanne van Fishrot-vaartuig wag steeds op hul geld

Drie-en-twintig vissermanne wat op die omstrede Heinaste-vaartuig gewerk het wat betrokke was by die Fishrot-skandaal, het steeds nie hul skeidingsbetalings ontvang nie. Hulle is in November 2018 onregmatig ontslaan, wat aan hulle ‘n arbitrasietoekenning van die arbeids-ministerie besorg het. Die arbitrasie gedateer 24 Junie 2021 het die vaartuig se eienaar, Articnam Fishing, beveel om die vissermanne 1,8 miljoen Namibiese dollar te betaal, plus rente van 20 persent per jaar. Die rente beloop tans 1 miljoen dollar. Die vaartuig is intussen verkoop en die vissermanne gaan ‘n eis instel teen die oorspronklike eienaar, wat volgens hulle aanspreeklik gehou moet word vir skeidingsbetaling.