Vermeende brandsmokkelaars in ongeluk, vrou dood

Plaaslike media berig dat ‘n vrou dood is na die voertuig waarin sy gereis het omgeslaan het by die Onambunga-nedersetting in Angola. Volgens kommissaris Moses Simaho van die Omusati-polisie, het die silwer Toyota bakkie – wat 19 houers vol brandstof vervoer het, vanaf Angola na Namibië gereis. Die voertuig is deur die Angolese polisie by die nedersetting voorgekeer en die bestuurder het probeer wegkom en teruggedraai. Hy het beheer oor die voertuig verloor en die 44-jarige Hilma Amadhila is uit die voertuig gegooi en is dood by die hospitaal verklaar. Die bestuurder het die toneel gevlug maar later na dieselfde hospitaal gegaan om mediese hulp te soek. Hy word nou onder polisiebewaking behandel. Brandstofsmokkelary bly ‘n wesenlike uitdaging.