Minimumloon raak dringend vir Namibië

Vakbonde in Namibië het die regering skerp gekritiseer vir sy slakkepas met die implementering van ‘n nasionale minimumloon. Die arbeidsminister Utoni Nujoma het reeds in Februarie 2021 ‘n kommissie, onder leiding van Marius Kudumo, van stapel gestuur en landswye konsultasies is gedurende die jaar gehou met ‘n verslag wat ingedien is. Volgens berigte soek die regering blykbaar nog insette van die Internasionale Arbeidsorganisasie, sowel as plaaslike vakbonde en werkgewers-organisasies. Die huidige voorgestelde minimumloon is 18 Namibiese dollar per uur wat sommige vakbonde meen te laag is. ‘n Minimumloon begin baie belangrik word veral met internasionale maatskappye wat op die land neerdaal as gevolg van die groen-waterstofprojekte sowel as die olie-ontdekkings. Die maatskappy sal volgens wat berig word, ‘n minimumloon vir enige aanstellings vereis.