Sensus begin vandag, doen jou deel maar wees waaksaam
Die langverwagte sensus begin vandag en duur tot 3 November. Die opname is uiters belangrik om data in te samel oor verskeie aspekte van die bevolking om ontwikkelingsdoelwitte korrek en doeltreffend te beplan. Die laaste sensus was in 2011 en moet elke tien jaar gehou word maar dit is uitgestel as gevolg van ‘n tekort aan befondsing. Die regering het 703 miljoen Namibiese dollar vir die sensus begroot. Opnemers sal duidelik geïdentifiseer kan word met identiteitskaarte van die Namibiese Statistieke-agentskap – dit is in ‘n poging om veiligheid te waarborg. Daar is reeds kommer dat bedrieërs so sal poog om toegang tot eiendom te bekom en die publiek word aangemoedig om deel te neem maar ook om waaksaam te wees.