Rusland flikvlooi met Kim oor kernmissiele
Die Noord-Koreaanse leier Kim Jong Un het vanoggend in Vladivostok Russiese strategiese bomwerpers, hipersoniese missiele en oorlogskepe geïnspekteer, vergesel deur president Vladimir Poetin se minister van verdediging, Sergei Shoigu. Die Verenigde State en Suid-Korea vrees dat die herlewing van Moskou se vriendskap met Pyongyang Kim kan toegang gee tot sommige van Rusland se sensitiewe missiel- en ander tegnologie, terwyl hy help om Rusland te bewapen in sy oorlog in die Oekraïne. Shoigu het Kim Rusland se strategiese bomwerpers gewys wat in staat is om kernwapens te dra en die ruggraat van Rusland se kernlugaanvalsmag vorm, volgens Rusland se ministerie van verdediging. Dit kan van Moskou na Japan vlieg en dan weer terug, het Shoigu van een vliegtuig vir ‘n glimlaggende Kim gesê.