Amushelelo op 10 en 11 Oktober terug in die hof

Die omstrede arbeidsaktivis Michael Amushelelo het twee sake in die hof gehad maar albei is uitgestel. Sy saak in verband met die mislukte protes teen jeugwerkloosheid op 21 Maart is in die Katutura-landdroshof tot 11 Oktober uitgestel omdat sy medebskuldigde Dimbulukeni Nauyoma, wat op borg vry is, siek is. Amushelelo, wat steeds in aanhouding is omdat borg geweier is, het nie opgedaag by die hof nie. Sy vrou Julietta het op sosiale media gesê die staat is aspris en die polisie gee nie vir sy regte om nie. Kenners meen borg word geweier omdat hy twee keer in ander, soortgelyke sake, borgvoorwaardes oortree het. In die ander, hoërhofsaak, waar hy poog om die aanklaer-generaal se klagte van geldwassery en meer, en die vries van al sy bates ter syde te laat stel, is tot 10 Oktober uitgestel en verskeie opdragte vir die indiening van hoofargumente is deur regter Hosea Angula gegee.