Sterk deflasie in vervoerkoste dalk net tydelikSeptember 12, 2023

Die vervoerkategorie in die verbruikersmandjie waarvolgens die Namibiese Statistieke-agentskap die inflasiekoers bereken, is die enigste wat verlede maand in geheel deflasie getoon het. Die agentskap sê koste in die kategorie was in die algemeen 2,2 persent laer as in Augustus ‘n jaar gelede, en is hoofsaaklik gedryf deur goedkoper bedryf van persoonlike vervoertoerusting. Dit sluit brandstofpryse in wat afwaarts geneig het, van 63,1 persent inflasie in Augustus verlede jaar tot -13,1 persent deflasie verlede maand, en voertuigdienste en herstelkoste wat drie persent gedaal het van jaar tot jaar. Bestuurstoetse, lisensies en motorvoertuig toetse was ook 4,5 persent goedkoper. Openbare vervoerkoste het egter met 5,6 persent gestyg, terwyl die pryse van voertuie in geheel met 2,1 persent gestyg het vanaf Augustus verlede jaar. Kenners meen vervoerkoste sal volgende maand egter weer styg, as gevolg van hoër oliepryse en ‘n swakker Suid-Afrikaanse rand.