Ministerie: Staan saam om aanvalle op toeriste dadelik stop te sitSeptember 12, 2023
Die ministerie van toerisme het die onlangse vlaag van gewelddadige aanvalle op internasionale toeriste in die land ten sterkste veroordeel. Romeo Muyunda, die ministerie se woordvoerder, sê aanrandings op besoekers en internasionale toeriste het ‘n ernstige en nadelige impak op die groei en herstel van die land se toerisme-ekonomie en -sektor, wat net begin om sy voete te vind twee jaar ná die verwoestende impak van Covid-19. Die ministerie werk saam met die hele toerisme- en gasvryheidsektor om ‘n ring van staal op te rig om Namibië se reputasie as een van die veiligste bestemmings in die wêreld te beskerm, en wil met die Namibiese polisie saamwerk om ‘n robuuste toesig en intelligente meganisme te ontwerp om hierdie misdadigers te stuit.