Swakop-pastoor uit op borg, verskyn weer einde Oktober

Die Swakop-pastoor wat van onsedelike aanranding aangekla is, sal weer op 31 Oktober terugkeer hof toe. Die 34-jarige Felix Kandjimi van die Christ Centre Ministry Church in Mondesa het volgens die polisie twee van sy bediening se vroulike lede, 31 en 37 jaar, met salwingswater betas. Die polisie sê die vroue se borste, heupe en privaatdele is daarmee ingevryf, onder die voorwendsel dat hy hulle genees en seën. Hulle het die klagtes by die polisie gemaak. Die ondersoek duur voort en Kandjimi is in die Swakopmund-landdroshof vrygelaat op borg van 2 000 Namibiese dollar.