Biko se appèl vir borg, weer, uitgestel

Regter Herman January het die appèlaansoek deur die omstrede Okahandja-streeksraadslid Steve ‘Biko’ Booys tot 2 Oktober uitgestel met hoofargumente wat teen 18 September ingedien moet word. Die staat het versuim om sy nodige liasserings te doen en dus is die appèlverhoor vandag uitgestel. Booys het reeds in September 2021 sy aansoek tot borg in die hoërhof laat vaar. Booys word op klagtes van bloedskande en verkragting in die streekshof verhoor. Volgens die staat het hy op 16 en 17 Januarie 2021 ‘n 20-jarige vrou verkrag na hy haar drank of dwelms ingegee het. Hy is op 2 Februarie 2021 gearresteer en borg is sedertdien geweier omdat die staat beweer hy het kontak met die vermeende slagoffer gemaak oor die klagtes. Sy ampstermyn as streeksraadslid vir Okahandja is gekenmerk deur optogte teen hom.