Coco vat Ope, Djokovic en Medvedev volgende

Die 19-jarige Amerikaner Coco Gauff het Aryna Sabalenka van Belarus in New York uitoorlê om as die Amerikaanse Ope vroue-enkelskampioen gekroon te word. Die tweede-gekeurde Sabalenka, wat môre die wêreld-nommer een-speler word, het die eerste stel op Flushing Meadows 6-2 ingepalm, maar die sesde-gekeurde Gauff het die volgende twee 6-3, 6-2 gewen om die kampioenskap te beklink. Dit is haar eerste Grand Slam-titel nadat sy verlede jaar ook die eindstryd van die Franse Open bereik het. In die mansafdeling kom die driemalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, in vanaand se eindstryd te staan teen die kampioen van 2021, Danill Medvedev van Rusland.