Gaboen sal padkaart vir herstel van demokrasie opstel

Sentraal-Afrika se bemiddelaar vir Gaboen en die land se nuwe militêre leier het ingestem om ‘n “padkaart” op te stel vir die herstel van demokratiese bewind ná ‘n staatsgreep verlede week. Generaal Brice Nguema is Maandag as tussentydse president ingesweer nadat hy op 30 Augustus ‘n staatsgreep gelei het wat ‘n halwe eeu van heerskappy deur die Bongo-familie beëindig het. ‘n Geloofwaardige padkaart vir ‘n terugkeer na burgerlike bewind sal die eerste stap wees om lidmaatskap van die Afrika-unie te herwin. Die land is na die staatsgreep uit die unie geskors.