Ministerie verwerp berig oor klieks in name

Die ministerie van binnelandse sake het die mediaberig oor ‘klieks’ in name skerp veroordeel en beskryf dit as kwaadwillig en oneties. Daar is berig dat die ministerie ‘n verbod daarop geplaas het. Volgens die uitvoerende direkteur Etienne Maritz, is die berig onwaar en ook foutief omdat die kind se naam korrek gespel is op die geboorte-sertifikaat. Die probleem lê by die masjien wat ID-dokumente druk. Die stelsel is in sogenaamde ‘Unicode’ en dus, vertaal hy nie die tekens en karakters wat die verskeie klieks verteenwoordig, korrek nie. Daar word nou saam met Unam gewerk om al die karakters en tekens te identifiseer wat dan met die verskaffer van die masjien gedeel sal word om die probleem op te los. Maritz sê dit is aan die ma van die kind verduidelik maar, sy het verkies om die media te nader. Hy sê verder die media het nie die ministerie vir kommentaar genader nie.