Taliban verbied Afghaanse vroue om nasionale parke te besoek

Die Taliban het vroue in Afganistan verbied om een van die land se gewildste nasionale parke te besoek. Die verbod kom nadat Mohammad Chalid Hanafi, waarnemende minister van sedelikheid en reinheid, gekla het dat te veel vroue nie hul hijab reg dra wanneer hulle die Band-e Amir- Nasionale Park besoek nie. Vroue word sedert verlede jaar verbied om enige openbare ruimtes te besoek, insluitend parke, omdat hulle glo nie hul sluiers reg dra en die reëls gehoorsaam waarvolgens mans en vroue geskei van mekaar moet wees nie. Meisies mag ook nie meer skool toe gaan of universiteitsopleiding ontvang nie. Die Band-e Amir-Nasionale Park het in 2009 die land se eerste nasionale park geword en is veral gewild onder gesinne. Feresita Abbasi van Human Rights Watch sê die nuwe verbod, wat op Gelykheidsdag vir Vroue ingestel is, kom neer op ‘n algehele minagting van vroue in Afganistan.