Pa 20 jaar tronk toe vir verkragting van twee dogters

‘n Pa van ses kinders is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die verkragting van sy dogters van 10 en 12. Die 48-jarige beskuldigde was 39 jaar oud toe hy die gruwelike misdrywe teen sy dogters gepleeg het. Streekslanddros Frans Anderson het in die Mariental-streekshof die pa, wie se naam nie bekend gemaak kan word nie om die identiteit van sy dogters te beskerm, tot 15 jaar gevangenisstraf op elk van die twee aanklagte van verkragting gevonnis. Hy het gelas dat tien jaar van die 15 jaar wat op die tweede aanklag van verkragting opgelê is, saam met die 15 jaar vonnis op die eerste aanklag van verkragting uitgevoer word. Staatsaanklaer Eric Naikaku, het die staat verteenwoordig.