Noord-Koreane in buiteland kan vier jaar ná Covid terugkeer

Noord-Koreaanse burgers wat al vir bykans vier jaar in die buiteland gestrand is weens Covid-grensbeheermaatreëls, sal nou na Noord-Korea kan terugkeer. Die individue sal egter sewe dae in kwarantyn onder mediese toesig moet deurbring. Dit volg slegs dae nadat ‘n vlug uit Pyongyang vir die eerste keer sedert 2020 in Beijing in China geland het. China het verlede week kommersiële vlugte tussen Beijing en Pyongyang wat weens die pandemie opgeskort was, heringestel. Hoewel Noord-Korea nou begin het om Covid-maatreëls te verslap, is dit nog nie duidelik wanneer buitelandse diplomate en hulplenigingswerkers weer in die land toegelaat sal word nie.