Zim-opposisie sê verkiesingsuitslag is vals

Zimbabwe se voorste opposisieparty het die uitslag onomwonde verwerp van die presidensiële verkiesing waarin President Emmerson Mnangagwa ‘n tweede termyn ingepalm het in ‘n proses wat internasionale waarnemers sê nie voldoen het aan demokratiese standaarde nie. Die woordvoerder van die Citizens Coalition for Change-party, Promise Mkwananzi, wie se kandidaat Nelson Chamisa tweede was, het bevestig hulle kan nie die uitslag aanvaar nie, wat hy as “vals” beskryf. Die 80-jarige Mnangagwa het 52,6 persent van die stemme gekry, teenoor 44 persent vir Chamisa, kragtens die amptelike uitslae wat deur die Zimbabwiese verkiesingskommissie bekendgemaak is.