Denemarke verbied verbranding van Koran, Bybel

Die Deense regering het ‘n verbod voorgestel op die openbare verbranding van godsdienstige tekste soos die Koran en die Bybel. Die minister van justisie Peter Hummelgaard sê die nuwe wetgewing is bedoel om die onbehoorlike hantering van die heilige tekste teen te werk. As dit aanvaar word kan mense wat skuldig bevind word aan die verbranding van die boeke strafregtelik vervolg word en boetes of tronkstraf van tot twee jaar opgelê word. Die Deense Sekerheids- en Intelligensiediens het gemaan sulke oortredings kan die terreurbedreiging verhoog.